Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 33

DINSDAG 26 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 14:1-12

Rebellie

Kom ons kies ’n leier en gaan terug Egipte toe! (14:4).

GESELSVRAAG: Wat maak leiers moedeloos?

“Daar is altyd drie soorte trekkers: die voortrekkers, die dwarstrekkers en die kurktrekkers,” het ’n bekende leraar glo by ’n Geloftefees gesê. Dit was ook die drie hoofpunte van sy preek. As ’n mens mooi daaroor dink, was hy nie ver verkeerd nie. Ons kry vandag nog dieselfde gesindheid: sommige mense is positief en gewillig, ander is negatief en teen alle verandering en die derde groep is selfsugtig en dink net aan hul eie plesier. Hulle wil geen verantwoordelikheid dra nie.

Die volk het eerder na die beswaarmakers as na die positiewe leiers geluister. Dit was genoeg om enigeen moedeloos te maak. Selfs die Here was moedeloos met die volk en wou hulle summier teregstel en ’n nuwe volk uit Moses bou (vgl. v. 11-12). Moses tree egter vir hulle in. Hy val op sy knieë en pleit vir hulle, soos ons vanaand sal sien.

Ons almal is op pad. Weet ons waarheen ons wil gaan? Ons gaan vandag voor uitdagings te staan kom. Gaan ons toelaat dat hulle ons onderkry? Verlang ons terug na Egipte – die slegte ou dae van weleer – en vergeet van al die nadele? Of kruip ons in ons dop, sluit ons toe agter hoë mure en tralies en hoop dat die probleme vanself sal verdwyn?

GEBED: Here, sonder U kan ons niks doen nie. Help ons om u wil te soek en ons daarvoor te beywer.

Lees vanaand in Numeri 14:13-24 hoe Moses vir die volk by die Here intree en waarop hy sy versoek grond.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх