Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 21

DONDERDAG 14 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 7:84-89

Interkom

So het die Here met Moses gepraat (7:89).

GESELSVRAAG: Hoe praat die Here deesdae met ons?

“Inligtingstegnologie het die wêreld oorgeneem. Binne tien jaar nadat ’n student Facebook in ’n koshuiskamer begin het, gebruik meer as 1,25 miljard mense daardie diens,” lees ek op die internet. In baie dele van die wêreld het selfone die algemene kommunikasiemiddel geword. Landlynfone is besig om te verdwyn weens die diefstal van koperkabels. Min mense gebruik nog papierbriewe. E-pos, BBM, Whatsapp, Twitter en SMS’e het dit vervang. Wie het nog tyd om boeke te lees?

Tog was Moses se kommunikasie met God veel beter as ons s’n. Sy verhouding met die Here was so direk soos ’n interkom. Hy kon duidelik hoor en verstaan wat die Here vir hom sê. Hy het dit dadelik neergeskryf sodat die volk en hul nageslag dit eeue later nog kon hoor en verstaan. Ek en jy ook! Dit nogal in ons eie moedertaal.

Hoewel ons so maklik met mekaar – en die Here – kan kommunikeer, verstaan ons mekaar steeds verkeerd. Ons hoor mekaar nie mooi nie. Vandaar al die opstande en betogings. Ons ly so aan inligtingsoorlading dat ons nie meer tyd het vir die belangrikste ontmoeting van almal – dié met die lewende God – nie. Miskien moet ons meer hieraan werk, soos Moses.

GEBED: Hemelvader, dankie dat U gewillig is om met my te praat en na my te luister. Leer my hoe om dit reg te gebruik.

Lees vanaand in Numeri 8:1-4 hoe die kandelaar aangepas is om meer lig vir die werk in die tabernakel te gee.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх