Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 13

WOENSDAG 6 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 3:40-51

Plaasvervangers

In die plek van al die eersgeborenes uit Israel moet jy die Leviete vir my diens beskikbaar stel (3:41).

GESELSVRAAG: Wie kan ons na ’n onbereikte volksgroep stuur met die evangelie?

“Ons kan nie almal na al die streke in Handelinge 1:8 gaan nie, maar elke gemeente kan tog in al daardie streke ’n verskil maak deur dit vir iemand anders moontlik te maak om te gaan,” verduidelik ’n sendeling op ’n vergadering. “Ons kan almal na die uithoeke gaan deur gereeld vir die werk daar te bid.”

Die oudste kind van elke ouerpaar moes aan die Here gewy word. Nou reël die Here egter dat elke gesin daardie kind kan loskoop deur ’n Leviet in sy plek te ondersteun. So lees ons dat die stam van Levi geld ontvang het om hulle te help oorleef terwyl hulle die Here voltyds in die plek van die eersgeborenes dien. Hulle sou nie ’n erfdeel kry soos die ander stamme nie, want hulle moes tussen die ander woon om hulle in die Woord van die Here te onderrig.

Elke gemeente het ook mense wat die ondersteuning van die gemeentelede nodig het om te oorleef: al die ampsdraers en die leraars, maar ook die sendelinge wat deur die gemeente ondersteun word. Ons moet hulle nie net met ons dankoffers dra nie, maar ook met ons gebede. Wanneer laas het jy vir jou leraar en sendelinge gebid? Doen dit sommer nou.

GEBED: Here, dankie vir elkeen wat namens ons in u diens is.

Lees vanaand in Numeri 4:1-11 hoe die Leviete die inhoud van die tabernakel vir die reis moes voorberei.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх