Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 15

VRYDAG 8 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 4:29-33

Nederige staatmakers

Dit is al die verpligtinge van die Merarigroep in verband met die tent van ontmoeting (4:33).

GESELSVRAAG: Wie se werk word nie maklik raakgesien nie?

“As die hoofbestuurder siek is, kom niemand dit agter nie. Maar as die teedame nie op haar pos is nie, dan weet almal dit,” wys iemand uit in ’n arbeidsbedieningvergadering. Baie van ons word so vanselfsprekend aanvaar dat ons werk eers raakgesien word as ons die dag nie daar is nie.

Die Merarigroep se werk was om die raamwerk van die tabernakel te versorg en te dra. Op die oog af was dit ’n nederige werk, maar wee jou as daar een balk makeer wanneer die tabernakel weer aanmekaargesit moet word. Hulle werk was eintlik baie belangrik, want hulle het die raamwerk voorsien waarvan al die ander afhanklik was.

Ons is nie almal op die voorgrond nie. Die meerderheid van ons is bloot deel van die massa. In elke maatskappy, kerk en gesin is die onsigbares egter juis die staatmakers op wie almal steun. Dit help ons om te verstaan waarom die nederiges so belangrik vir die Here is. Wie laaste is, is eerste in die Here se oog. Ons moet dus nie moedeloos word en ons onttrek as ons nie die nodige erkenning kry nie. Die Here sien elkeen raak en is trots op sy kinders.

GEBED: Vader, maak my ’n staatmaker in u kerk en wêreld op wie U en elke ander mens kan vertrou.

Lees vanaand in Numeri 4:34-49 hoe elkeen van die Leviete ’n plig gehad het wat vir die diens van die Here belangrik was.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх