Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 4

Оглавление

Voorwoord

Baie welkom by nog ’n jaar van saam luister na die Woord van God. Ons sal ’n boek uit die Ou Testament en die Nuwe Testament min of meer om die beurt bestudeer. As jy die siklus die afgelope ses jaar saam met ons gevolg het, het jy ál 66 boeke in die Bybel van voor tot agter deurgelees. Daarom is dit belangrik om ook die aandgedeelte elke dag te lees.

Gebruik die Gebedsgids in die boek om jou te help om elke dag sinvol voorbidding te doen, sonder om in dieselfde rympie te verval.

Ds AJ van Wijk (sr.) het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit die Uit de Beek genoem, na aanleiding van 1 Konings 17:4 in die Nederlandse Bybel: “En het zal geschieden, dat gij uit de beek drinken zult …” ’n Beek is natuurlik ’n bergstroompie. Die gedagte is dat ons ons elke dag moet verfris by die vars water van die Woord. Sedert 1929 is hierdie oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Hierdie uitgawe is die 90ste. Ons sal sien dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is. Die huidige skrywer is ’n kleinseun en naamgenoot van die eerste skrywer. Sy e-posadres is attie.vanwijk@gmail.com, as jy hom dalk wil kontak.

In die Ou Testament lees ons vanjaar uit Numeri, 1 en 2 Konings, Daniël, Hooglied, Hosea, Obadja, Miga, Amos en Klaagliedere; en in die Nuwe Testament uit Johannes, Efesiërs, 1 en 2 Tessalonisense, Titus en Hebreërs. Sondae lees ons, soos gewoonlik, uit die Psalms. Ons sal ontdek hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir ons daaglikse lewe is.

Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd, en ook om tydens huisgodsdiens te gebruik. Om daarmee te help gee ons elke dag ’n geselsvraag om die gesin te betrek. Dit sal julle help om die Skrifgedeelte elke dag op julleself toe te pas.

Mag hierdie jaar vir jou ’n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is. Bou elke dag aan jou verhouding met Hom!

Uit die Beek 2016

Подняться наверх