Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 17

SONDAG 10 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Psalm 78:1-8

Huisgodsdiens

... sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit weer aan húlle kinders kan vertel (78:6).

GESELSVRAAG: Wanneer laas het julle saam huisgodsdiens gehou?

“Ek weet nie mooi wat dit beteken nie,” bely ’n universiteitsmaat van een van ons kinders. Ons was saam met die kinders by die see en wou die aand huisgodsdiens hou. Die studentemaat het dit nie van huis uit geken nie. Ek vermoed dat min jongmense vandag nog weet van “boekevat” en saambid.

Asaf het hierdie psalm gedig om ons as ouers op te skerp om gereeld met ons kinders te praat oor die groot dade van God. Só word die geloof van geslag tot geslag oorgedra. In daardie tyd was daar nog nie ’n Bybel in elke huis nie en die ouers moes maar vertel wat hulle uit hul kinderdae onthou het. Vandag het ons baie meer voorregte. En tog gebruik ons dit nie. Gee ons dan werklik so min vir ons kinders om?

Dit is nie genoeg om net een keer ’n week in die kerk tyd vir die Here te maak nie. Ons het die Here elke dag van die week nodig. Ons kinders moet elke dag deur ons woorde en voorbeeld gelei word. Ek is so dankbaar om te hoor dat Uit die Beek baie gesinne help om elke dag saam die Woord van die Here te oordink en vir mekaar te bid. Dit is ’n kosbare nalatenskap vir ons nageslag.

GEBED: Here, help ons om vanjaar elke dag saam huisgodsdiens te hou sodat ons vir die nuwe dag gewapen kan wees.

Lees vanaand in Psalm 78:9-17 oor watter skade dit meebring as ons die Here se dade vergeet.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх