Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 20

WOENSDAG 13 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 7:1-10

Transport

Hulle het as offergawes ses tentwaens en twaalf osse gebring (7:3).

GESELSVRAAG: Watter voertuie is vir die werk van Here nodig?

“Is jy lus vir ’n nuwe viertrekvoertuig? Gaan koop dit gerus. Skenk dit dan aan jul sendeling in Mosambiek. Hulle het ’n betroubare voertuig baie nodiger as jy!” skerts die spreker by ’n sendingweek. Dis meer as net ’n grappie. Ons sendelinge in die boendoes kry dikwels swaar om op uiters swak paaie met ou, onbetroubare karre, ver van enige motorhawe, hulle werk te doen.

Die stamleiers van Israel het besef dat vervoer nodig is om die reusetent van die tabernakel van een plek na ’n ander te vervoer. Die gereedskap van die tabernakel kon die Kehatgroep miskien nog op hul skouers dra, maar nie die raamwerk en die tentseile nie. Daarvoor was waens nodig. Hulle het dus met groot opoffering hul beste waens, wat hulle nog destyds in Egipte gekry het, daarvoor gegee.

’n Suid-Afrikaanse sakeman in die Midde-Ooste het herhaaldelik nuwe voertuie aan sendelinge in sy omgewing geskenk terwyl hy self met ’n ou voertuig ry waarvan die lugreëlaar nie meer werk nie. Hy en sy gesin woon in sy huis se woonkamer sodat hulle die ander vertrekke kan verhuur – sodat hulle meer geld het om weg te gee.

GEBED: Here, wys my waar ek u werk kan ondersteun. Stel my in staat om ál meer te doen.

Lees vanaand in Numeri 7:11-83 hoe die familieleiers beurte gemaak het om die Here se werk te ondersteun.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх