Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 12

DINSDAG 5 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 3:11-26

Beproefde mense

Kyk, Ek het die Leviete uit die volk vir My geneem in die plek van al Israel se eersgeborenes (3:12).

GESELSVRAAG: Watter families maak deesdae ’n positiewe verskil?

“Dit is darem verstommend waar die nageslag van wyle ds Andrew Murray van Graaff-Reinet hulle oral onderskei het,” het ons vir mekaar gesê nadat ons ’n lesing by ’n Murray-familiesaamtrek bygewoon het. Hulle het leiersrolle vervul op die gebied van die teologie, onderwys, sending, geneeskunde, kuns en politiek, en doen dit nou nog. So kan julle seker ook dink waar julle vandaan kom en waar die Here jul familie gebruik het.

Waarom het die Here juis die Leviete gekies om op ’n spesiale manier aan Hom te behoort? Hulle is nie die afstammelinge van die oudste kind, Ruben nie. Moontlik kry ons die antwoord in Eksodus 32:26-29 waar die kinders van Levi vir die eer van die Here geveg het terwyl die res van die volk ’n goue kalf aanbid het. Hulle het gewys agter wie hulle staan. Hulle was nie bang om ongewild te wees ter wille van die eer van die Here nie.

Ons kan nie ons verlede verander nie, maar ons kan wel ons en ons nageslag se toekoms verander. Hulle wil graag ons voorbeeld volg. In hierdie week sal ons dalk die kans kry om standpunt in te neem. Wat sal dit wees?

GEBED: Here, hou my getrou aan U as die versoeking kom om met die stroom saam te gaan.

Lees vanaand in Numeri 3:27-39 hoe elke familie sy eie besondere verantwoordelikheid gehad het. Wat is julle s’n?

Uit die Beek 2016

Подняться наверх