Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 14

DONDERDAG 7 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 4:12-20

Hoë risiko

Julle moet voorsorg tref dat die Kehatgroep van Levi nie met die dood gestraf word nie (4:18).

GESELSVRAAG: Watter beroepe is deesdae gevaarlik?

“Wat wil jy eendag word?” is steeds een van die opstelonderwerpe waarmee elke kind moet worstel. In die verlede wou seuntjies brandweermanne of ruimtevaarders word. Deesdae wil hulle blykbaar soldate word wat alles wat beweeg voor die voet doodskiet, soos in die rekenaarspeletjies. Dogtertjies se drome het verskuif van huisvrou en moederskap na model en filmster. Of dalk ’n sakevrou.

Vir die Kehatiete was die keuse maklik. Die manne sou almal as Leviete dien, van hul dertigste tot vyftigste jaar. Dit was die familiegroep waartoe Moses en Aäron ook behoort het. Hierdie deel van die Leviete het die taak gehad om die heiligste voorwerpe in die tabernakel te versorg. Die meeste van hulle het dit egter nooit gesien nie. Die priesters het die voorwerpe sorgvuldig toegedraai voordat die ander Leviete dit kon dra. Daar is selfs mense wat al gewonder het of die ark dalk radioaktief was – hoekom was dit dan so gevaarlik?

In baie lande is Christenwees vandag seker die hoogste risiko. Duisende word elke jaar gemartel en doodgemaak, nie omdat hulle iets verkeerd gedoen het nie, maar bloot omdat hulle volgelinge van Jesus is. Is jy ook een van hulle?

GEBED: Here, hou my tot die einde aan U getrou.

Lees vanaand in Numeri 4:21-28 hoe die Gersongroep die seile van die tabernakel moes versorg.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх