Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 19

DINSDAG 12 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 6:13-21

Afgesonder

By die ingang van die tent van ontmoeting moet die nasireër sy hare, die teken van sy wyding, afskeer (6:18).

GESELSVRAAG: Wat is die waarde van ’n tyd van afsondering?

“Ek wil die volgende paar weke ’n Daniël-vas doen,” sê ’n jong vriendin. Dit beteken om baie eenvoudig te eet en te drink as deel van ’n tyd van toewyding en stilword. Sy wou by die Here hoor wat die volgende stap in haar loopbaan is. Dit was vir haar ’n spesiale tyd van toewyding aan die Here.

Ons lees meermale in die Bybel van mense soos Johannes die Doper en Paulus wat hulle ’n tyd lank afgesonder het om die wil van die Here te soek. In Moses se tyd was nasireërskap so ’n spesiale tyd van toewyding. Volgens Numeri 6 moes so iemand alkoholiese drank en alle produkte van die wynstok vermy. Hy moes ook aanraking met ’n lyk vermy, en sy hare vir die volle tyd laat groei. Vandag se Skriflesing gaan oor hoe so iemand sy hare aan die einde dié tyd by die tabernakel moes gaan afskeer.

Hoe kan ons vandag ook so ’n tyd van toewyding hou? Baie gelowiges doen dit deur vas en gebed. Calvyn was sterk ten gunste daarvan. John Wesley het glo geweier om ’n leraar te orden as hy nie twee dae per week vas nie. Dit is nie om druk op die Here uit te oefen nie, maar om selfsugtige begeertes te oorwin. Hoe wil jy dit doen?

GEBED: Here, help my om my vir so ’n tyd van toewyding af te sonder.

Lees vanaand in Numeri 6:22-27 die woorde waarmee ons elke dag ons kinders kan seën.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх