Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 26

DINSDAG 19 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 10:11-24

Ordelik

Hulle het begin trek op bevel van die Here deur Moses (10:13).

GESELSVRAAG: Waarom is organisasie en orde belangrik?

“Kyk, as hierdie skip eers op spoed is, neem dit kilometers voor hy kan stop of omdraai. Sorg dus dat jy nie oorboord val nie,” waarsku die offisier die nuwe manskappe van ’n vliegdekskip. Dit vat baie krag om so ’n massa aan die beweeg te kry en net soveel energie om dit te stop of van rigting te laat verander.

Ons het vandag gelees hoekom die Israeliete in stamme georden is en op spesifieke plekke om die tabernakel moes kamp opslaan. Om so ’n groot trek van miljoene mense aan die beweeg te kry, is nie maklik nie. Dit kon ’n chaos afgee as dit nie ordelik geskied nie. Let op hoe ordelik hulle vertrek het, sodat die tabernakel reeds op die nuwe staanplek opgeslaan kon wees teen die tyd dat die Kehatiete met die gereedskap daar opgedaag het (vgl. v. 21).

“Elke ding het ’n plek en elke ding op sy plek,” leer ons mos ons kinders. Waar daar nie orde is nie, lyk ’n vertrek gou na ’n varkhok of rommelhoop. Kinders kan nie altyd verstaan waarom Mamma dan so op netheid aandring nie, totdat hulle hulle eie kinders moet leer. Kinders wat sonder dissipline grootword, besorg hul familie, skool en die samelewing in hul later jare hoofbrekens. “Buig ’n boompie terwyl hy nog jonk is,” sê die spreekwoord.

GEBED: Here, leer my om my lewe ook te orden, tot u eer. En help ons as ouers om ons kinders en kleinkinders so te leer.

Lees vanaand in Numeri 10:25-36 hoe Moses van ’n kundige gids gebruik gemaak het.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх