Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 24

SONDAG 17 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Psalm 78:18-22

Ongeloof

... omdat hulle nie op God vertrou het en op sy hulp staat gemaak het nie (78:22).

GESELSVRAAG: Waarom gaan die meeste mense nie kerk toe nie?

“Die grootste gros kerklidmate leef net soos ateïste. Hulle gaan nie meer kerk toe nie; hulle lees nie meer die Bybel nie. Hulle maak nie tyd vir gebed nie. Hulle hou nooit huisgodsdiens nie. Hulle lewenswyse verskil niks van ongelowiges s’n nie.” Stem jy saam met hierdie vriend se opmerking? As dit waar is, is dit ’n groot aanklag teen ons kerke. Maak ons dan geen verskil meer in ons land nie? Waar lê die fout?

Die Israeliete was God se volk. Hy het hulle uit slawerny verlos. Hy was besig om hulle na die beloofde land te lei. Hy het vir hulle gesorg. Tog het hulle gedurig gekla. Hulle was ontevrede met alles wat die Here gedoen het, soos hierdie psalm ons herinner. Hul ongeloof het God kwaad gemaak, lees ons hier. Dit het negatiewe gevolge gehad (vgl. Num 11:1).

Wat sê jou gebruik van die dag van die Here van jou geloof? Wie is die belangrikste in jou lewe? Die Here, of jy self? Is vandag vir jou ’n dag van aanbidding, gebed, Bybelstudie en diens, of van plesier en selfsugtige vermaak? Hierdie dag is ’n kosbare skat as ons dit reg gebruik. Die Here wil ons versterk en voorberei vir die week wat voorlê. Kom ons maak dit sy dag.

GEBED: Dankie dat U aan ons elke week ’n rusdag gee om ons te verkwik, Here. Help my om hierdie dag reg te gebruik.

Lees vanaand in Psalm 78:23-31 hoe mense steeds ontevrede bly, al voorsien die Here ook alles wat hulle nodig het.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх