Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 32

MAANDAG 25 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 13:26-29

Pasop vir maar-mense

Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot (13:28).

GESELSVRAAG: Hoekom sien ons so maklik probleme raak?

“Dankie tog dis Maandag. Nou kan ek weer gaan werk!” Is dit hoe jy vanoggend voel? Dan is jy gelukkig in jou werk. Die meeste mense sien uit na die naweek, en Maandag is die dag waarop meer mense siek is as enige ander dag van die week. Ons kan nie altyd ons omstandighede verander nie, maar ons kan ons gesindheid verander. Dit kan jou help om jou werk te geniet.

Die verkenners het teruggekom met ’n positiewe boodskap. Die land wat op hulle wag, is wonderlik. Die vrugte is uitermate groot – kyk net na die reusetrosse. Dan kom die maar: Maar daar bly reuse in daardie land. Tien van die twaalf het bang geword toe hulle die uitdagings sien. Hulle het skoon vergeet dat hulle onder God se leiding op hierdie pad is. Hulle het vergeet hoe Hy tot nou toe vir hulle gesorg het. Nou wil hulle eenvoudig tou opgooi.

Hoe voel jy oor die week wat voorlê? Is jy lus om al die uitdagings – die Enakiete van ons tyd – in die Naam van die Here aan te durf? Of draai jy jou rug vir die Here en sien jy net die probleme raak? Die Here wil ons uit hierdie geskiedenis leer dat ons Hom dié week ten volle kan vertrou.

GEBED: Here, vergewe my dat ek nie my oë op U hou nie, maar op die dreigemente. Ek vertrou U vir die uitkoms.

Lees vanaand in Numeri 13:30-33 hoe party verkenners die volk bang gepraat het. Negatiewe mense gee hoofbrekens.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх