Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 29

VRYDAG 22 JANUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 12:1-9

Goeie kommunikasie

Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie (12:8).

GESELSVRAAG: Hoe ontwikkel ’n mens ’n persoonlike verhouding met God?

“Die Here het vir my gesê dat ek dié brief vir daardie leier moet skryf, dominee,” vertel die deftige dame. “Sal u dit asseblief deurlees en kyk of dit reg is?” “Tannie, as die Here dit vir jou gesê het, mag ek mos niks daaraan verander nie,” was sy antwoord. Baie mense is lief om te sê: “Die Here het vir my gesê …” maar as jy hulle vra hoe Hy dit gedoen het, raak die antwoorde gou ’n bietjie vaag.

Moses se ouboet en ousus het aanstoot geneem aan die gesag waarmee hul kleinboet gepraat het, al was hy nou reeds diep in die 80. Hulle wou ook as leiers erken word. Die Here roep hulle dus na die tent van ontmoeting (dit het buite die laer gestaan – dit was nog nie die tabernakel nie). Daar gee die Here toe vir Moses ’n pragtige getuigskrif. Hy is die betroubaarste. Hy is die sagmoedigste. Hy het ’n persoonlike verhouding met God.

Sal die Here ook aan my en jou hierdie getuigskrif kan gee? Het ons werklik ’n persoonlike, lewende verhouding met God, of is dit net vormgodsdiens? Dit maak nie saak wat die mense dink nie. Wat saak maak, is wat God dink. Hy weet nie net wat ons dink, sê en doen nie. Hy ken ook ons motiewe agter elke daad. Dié is dikwels selfsugtig.

GEBED: Here, ek verlang na ’n persoonlike verhouding met U. Wys my wat ek moet doen sodat U my kan verander.

Lees vanaand in Numeri 12:10-16 hoe Miriam en Aaron finaal oortuig is dat Moses anders as hulle was.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх