Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 10

7 Januarie

Оглавление

Die stem van die Here …

Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters! Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit. Die stem van die Here laat weerlig uitslaan. Psalm 29:3–4, 7

Psalm 29 is ’n lied oor die wondermag van God se stem. In Genesis 1 lees ons dat God maar net ’n woord gespreek het en die skepping het tot stand gekom. Wanneer God praat, gebeur dinge. Geweldige dinge. Die woord wat God praat, bring lewe voort. Dit is ’n woord wat vir ’n kosmiese magsvertoon verantwoordelik is. Dit skep orde uit ’n woeste chaos. Elke blom wat oopgaan, is die antwoord op God se skeppingswoord. Elke wolk, reënbui, sonsopkoms, wind en weerlig is deel van die simfonie wat in ’n jubeling losbars wanneer die dirigent aan die woord kom.

Die Hebreeus vir “woord” is dieselfde as vir “daad”. Dit dui op ’n gebeure. God praat, by wyse van spreke, nie sommer in die wind nie. God se woorde is daadkragtig. Dit laat dinge gebeur. Die Psalmdigter het ’n pragtige lied daaroor geskryf. In die psalm hoor ons sewe keer die refrein: die stem van die Here … Die stem van die Here is magtig en vol majesteit, want ja, dit is die almagtige Koning wat aan die woord kom. Die Here se stem laat weerlig uitslaan en die woestyn bewe en die bokkies skrik – die natuur betoon sy onderworpenheid aan God se stem. Want God se stem is nie net die stem wat die skepping in aansyn roep nie, maar ook die stem wat oor sy skepping heers.

Het jy al in die skepping God se stem gehoor?

Here, ek hoor u stem . . . en ek buig in woordelose aanbidding. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх