Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 22

19 Januarie

Оглавление

Sonde

Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet … en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Genesis 3:6, 8

Die mens wat net minder as ’n Goddelike wese geskep is, wat as heerser oor God se skepping aangestel is, is nie tevrede om ’n onderkoning te wees nie. Hy wil soos God wees. Self god wees. Sonde is meer as net ’n koppige “nee” vir God, dit is ’n uitdagende “ja” vir jouself.

Ons het hier met ’n stuk Goddelike misterie te make. Hoeveel kere het mense nie al probeer om dié misterie met velerlei slimmighede op te los nie. Waarom het God die sondeval toegelaat? Waarom het God dit vir die mens moontlik gemaak om teen Hom te kies? Waarom het die almagtige God toegelaat dat daar ’n slinkse versoeker op die toneel verskyn? En al die antwoorde op die “waarom”-vrae is nuttelose bespiegeling. Die misterie is dat God self gekies het om nie ’n meganiese, robotagtige mens te skep nie. Die mens wat Hy na sy beeld geskep het, is ’n selfstandige wese met die reg om self te kies. God se grootste vreugde vind Hy juis daarin dat die mens uit eie vrye wil vir Hom kies, kies om met Hom in ’n persoonlike verhouding te staan, kies om aan Hom gehoorsaam te wees.

En juis daarom is God se grootste hartseer ook wanneer die mens kies om teen Hom te draai.

Here, bewaar my van ’n eiesinnigheid wat maak dat ek my rug op U draai. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх