Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 39
4 Februarie
ОглавлениеSug, roep en wag
Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag. Psalm 5:2–4
Kom ons onderbreek vir ’n paar dae ons fokus op die wonder van God se woord; kom ons luister na mensewoorde – woorde waardeur die versugting na God se helende Woord verwoord word.
Die sugtende en roepende mens – is dit nie ’n treffende beeld van die mens in die algemeen nie? Ons sug omdat ons aan soveel ellende blootgestel word. Vir die Psalmdigters het dit hoofsaaklik oor vyande en siekte gegaan. Daar is soveel slegte dinge wat ons lewens versuur. Sovele onverstaanbare dinge. En ons sug van moedeloosheid. En ons roep tot God. Ja, as die moeilike omstandighede maar net telkens daartoe wil lei, naamlik dat ons in opregte afhanklikheid tot God sal roep. Die digter praat met sy Koning en sy God. Hy erken die Here met wie hy praat as die enige God, maar ook as die heerser oor sy lewe. Geen omstandighede of aardse magte is in beheer van sy lewe nie, maar God alleen. Hy is my Koning.
As ’n mens só tot God bid, kan jy met vrymoedigheid saam met die Psalmdigter getuig dat God in die môre na jou luister, in die môre as jy in gebed tot Hom nader en op Hom wag. Onthou tog maar om op die Here te wag – wag in afhanklikheid en volkome vertroue. Want die Here hét geluister!
Here, dankie dat U my hoor sug en roep. Ek wag op U. Amen.