Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 30

27 Januarie

Оглавление

Daar is niemand wat goed doen nie

Van die hemel af kyk die Here die mense deur om te sien of daar één verstandige is, één wat na die wil van God vra. Almal het afgedwaal, die laaste een het ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie. Psalm 14:2–3

As ons ’n ent verder in die Bybel blaai, hoor ons ’n Psalmdigter se klaaglied oor die sondige wêreld. God is op soek na ’n verstandige mens, iemand wat na die wil van God vra. Want daarvoor is die mens tog geskape, naamlik om met God in harmonie te lewe. En dit kan mos net op een manier wees en dit is om God se wil te doen. Maar nee, sê die digter, daar is werklikwaar nie een enkele siel wat na God se wil vra nie! Almal het afgedwaal, almal is ontaard, niemand doen goed nie, selfs nie één nie!

Is die wêreld regtig so sleg? Ja én nee. Die wêreld waarvan die digter praat, is die wêreld van die dwase, die mense wat hulleself buite God se heerskappy stel. Daar is ook ’n ander wêreld, naamlik die wêreld van God se volk, sy kerk op aarde. En dié wêreld bestaan uit mense wat God se heerskappy oor hulle lewens erken. Dit is die wêreld waaraan ek en jy behoort.

’n Ontaarde mensdom, en ’n geredde mensdom. Twee wêrelde wat voortdurend in botsing met mekaar is. Lig en duisternis wat ’n stryd voer. Maar, so leer die Nuwe Testament vir ons, die lig sal die duisternis oorweldig. Geen duisternis is so groot dat slegs een kersie nie ’n reuseverskil maak nie. Mag ek en jy daardie kersie wees. Ons moet net in gedagte hou dat ons nie op grond van ons eie bekwaamhede deel van die geredde wêreld is nie; alles is genade!

Here, help my om in ’n donker wêreld ’n lig van hoop te wees. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх