Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 32

29 Januarie

Оглавление

“Maar Noag …”

Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier …” Maar Noag is deur die Here begenadig. … Noag was ’n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef. Genesis 6:9

Die Noag-verhaal is Ou-Testamentiese evangelie. Toe Noag geleef het, het die sondespiraal ’n hoogtepunt bereik, soveel so dat dit vir God berou het dat Hy die mens geskep het. God besluit om mens en dier op die aarde uit te wis. En amper gebeur dit, was dit nie vir een man en sy gesin nie.

“Maar Noag …” Noag het met God in die regte verhouding geleef. Noag vind genade in God se oë. Noag word God se instrument na ’n nuwe bedeling van genade. En in Noag se lewe vind ons ’n prototipe wat in die loop van die geskiedenis by herhaling na vore tree: mense deur wie God sy genadewerking voortsit ten spyte van toenemende verval in die wêreld.

Ons leef in ’n stukkende wêreld. Ek hoef dit nie eers te verduidelik nie, almal weet dit. Moord, verkragting, terminale siekte, ekologiese ondergang – al hierdie goed is aan die orde van die dag.

Ons leef in die tydperk tussen “alles tevergeefs” en “alles is genade”. Die werklikheid van die tevergeefse vreet aan ons, dag vir dag. Ons lees dit in die koerante en sien dit op die televisie. Maar dan maak ons die Groot Boek oop en lees van genade. God is daar. En Hy maak nie net heel nie, maar gebruik sy kinders om heel te maak.

Ek en jy is God se heelmakers. Ons moet die stukkende natuur en stukkende mense optel en help om weer ’n herstelprogram aan die gang te kry.

Here, ek wil kom aanmeld as u medewerker in die heelmaakproses. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх