Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 31

28 Januarie

Оглавление

Verdorwenheid en genade

Hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Hulle skinder en praat kwaad; hulle haat God, hulle is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers; hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig. Romeine 1:29–31

Kom ons kyk vanuit ’n Nuwe-Testamentiese perspektief na die ontaarde mensdom. Paulus praat daarvan in Romeine 1. En hy het nogal ’n mondvol oor die verdorwenheid op aarde te sê. Ek tel een en twintig slegte dinge wat Paulus oor dié mense te sê het. Klink dit oordrewe? Neem gerus vandag se koerant en kyk hoeveel daarvan jy in die koerantkolomme opspoor. Ja-nee, dit is maar hoe die wêreld lyk. Ons moet daarvan kennis neem. En ons moet verstaan dat ons die sondekiem in onsself dra. Ons moenie te neerhalend oor die verdorwe wêreld praat nie. Uit die lys van sondes wat Paulus aan die wêreld toeskryf, is daar slegs enkeles wat nie ook by geleentheid voor die deur van belydende Christene gelê kan word nie. En ja, hoe dikwels gebeur dit nie dat die name van uitgesproke Christene in die nuusmedia met ongure praktyke verbind word nie.

Daar is maar net een woord wat ons van die wêreld skei, en dit is genade. Onbeskryflike groot genade. En selfs as ons by geleentheid val en in die moeras van sonde beland, neem God ons weer by die hand. Maar ons moet net heelpad onthou dat alles genade is. En ons moet op ons hoede bly. Ons leef in ’n wêreld vol versoekings. Die verbode vrug bly vandag nog uiters begeerlik. Laat ons liewer met groter toewyding ons gedagtes op God se wil vir ons lewe fokus.

Here, daardie een en twintig sondes pla my . . . Laat my naam tog nie op die “wêreldlys” beland nie. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх