Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 36

1 Februarie

Оглавление

Die woord: skeppend en verlossend

Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame. Psalm 33:6

Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. Psalm 19:8

Laas maand het ons gesels oor God se skeppende woord. Hierdie maand gaan ons aandag gee aan God se verlossende woord. God het nie net deur sy woord die hele skepping in aansyn geroep nie, maar toe die skepping deur die sondeval verwring en afgetakel is, het God met ’n reddende woord vorendag gekom. Hierdie woord is enersyds ’n oproep tot bekering, andersyds ’n woord wat die koers na nuwe lewe aandui. God se verlossende en herskeppende woord word die duidelikste in sy geskrewe Woord verwoord. Kom ons luister hoe God praat, en hoe ons na sy stem behoort te luister.

In Psalm 19 word God as Skepper en Herskepper besing – deur sy Woord het die skepping tot stand gekom en die hemele getuig dag vir dag van sy skeppingsmag; en deur sy woorde is Hy ewe-eens dag vir dag besig om vir sy menseskepsels die regte koers aan te dui. Die Woord van die Here is volmaak. Daar hoef niks bygevoeg te word om dit geloofwaardig te maak nie. Daar mag ook niks van weggeneem word nie. Dit is die Woord wat lewe gee vir hulle wat daaraan getrou bly. God se Woord is nie net die bron van die lewe nie, maar ook die Woord wat mense met wysheid toerus om in hulle lewens die regte keuses uit te oefen.

Laat die volmaakte Woord van die Here vir jou die rigsnoer wees in ’n ontwrigte en onseker wêreld.

Dankie Here, dat ek die woord wat lewe gee tot my beskikking het.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх