Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 26

23 Januarie

Оглавление

In die bloedstroom

Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.” Kain het met sy broer Abel gepraat, en toe hulle in die veld was, het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak. Genesis 4:6–8

Jy kan dit die “vloek van genetika” noem, of “ongevraagde oorerwing” of sommer net “erfsonde”. Sonder om by teologiese debatte oor die saak betrokke te raak, is dit onteenseglik duidelik dat die Bybel vir ons vertel dat sonde in ons bloedstroom gekom het. Ja, ons sê wel iemand soek sonde, maar eintlik het ons almal dit alreeds. In sonde ontvang en gebore …

As ’n mens na die sondeval terugkyk, kan jy in die stilligheid wonder of die vrugtestelery regtig so erg was. Ja, dit was nou wel vrugte in God se tuin en teen sy uitdruklike bevel, maar darem tog net vrugte? Maar natuurlik weet ons dat dit nie oor vrugte gaan nie; dit gaan oor ongehoorsaamheid; dit gaan oor verset teen God. En spoedig blyk dit toe dat dié verset oor veel meer as vrugtesteel gaan; die mens sal nog veel meer doen om homself te bevredig en te probeer bevoordeel. Ons lees daarvan in Kain se storie.

Kain se offer het nie God se goedkeuring weggedra nie. God soek opregte en toegewyde harte, nie omkoopoffers nie. Sy lewe was nie goed nie. En daarom was sy offer nie vir God aanvaarbaar nie. Toe word Kain deur die sonde van afguns oorweldig. En die uiteinde was die eerste moordverhaal in die Bybel, broedermoord.

Here, bewaar my teen die sonde van afguns en hebsug. Mag my lewe ’n dankbare offer tot u eer wees. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх