Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 21

18 Januarie

Оглавление

Versoeking

Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.” Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.” Genesis 3:2–5

In die baie kort verhaaltjie in Genesis 3 kry ons tog die presiese rede vir die geweldige breuk in God se goeie skepping. Kortliks: ongehoorsaamheid aan God se wil. En die rede vir die ongehoorsaamheid? Niks anders as selfsugtige eiesinnigheid nie. Die Goddelike skepsel ontluik in ’n ek-mens.

Dit begin met ’n versoeking. Die versoeker wat hier as ’n slang voorgestel word, is die verpersoonliking van God se teenstander. Reeds voor die sondeval is daar al ’n onheilige opstand teen God. Satan was gereed om alles in sy vermoë te doen om God se goeie werk ongedaan te maak. Sy tegniek is uitstekend. Hy saai die saad van wantroue. Hy plaas God se motiewe onder verdenking. Hy stel die mens bloot aan versoeking, die versoeking om vir God “nee” te sê en homself te bewys.

Die oeroue patroon vind nog dag vir dag neerslag in mense se lewens. Nee, in die lewens van God se kinders! Sonde bly steeds niks anders as ’n “nee” vir God en ’n manier om my eie sin te kry nie. En sonde is nie Satan se skuld nie; hy help maar net dat ek self besluit om skuld te maak.

Ons Vader wat in die hemel is, . . . laat kom ons nie in die versoeking nie. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх