Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 15
12 Januarie
ОглавлениеDie grootse skepping
… en ’n koningskind
As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: Psalm 8:4–7
Hoe meer ek oor die uitspansel te wete kom, hoe kleiner voel ek. Dit is veel meer as ’n onbeskryflike waarneming van son en maan en sterre. Om te ontdek dat dit wat ek sien maar ’n verspot kleine breukdeel van die geheel is. Kan jy jou voorstel dat daar meer as ’n biljoen ander sterrestelsels soos ons s’n is? En dan dink ons sowaar nog dat die wêreld om onsself draai!
Psalm 8 is ’n lied van verwondering oor die grootsheid van die skepping. En die digter het nog maar so min geweet van hoe groot dit regtig is! Maar wat hy wel geweet het, is dat ons onsself tog nie al te groot moet reken nie. In die grootsheid van die sterrehemel ervaar ek iets van die grootheid van God. En eers dan kan ek voor die spieël gaan staan: Wat is die mens?
Die groot mens. Die mens wat homself so hoog aanskryf. Wat is die mens? Hou jou hart vas: net minder as ’n hemelse wese! Want die mens verbeeld die wese van God. En die mens is belas met die verantwoordelikheid om God se wonderlike skepping te help bestuur. Heerser. Koning. Want hy is Koningskind. Ek en jy: Koningskinders. Presies hoe vertolk ons die belangrike rol? Gesels gerus met die Koning daaroor.
Here, Koningskind, ek? Heerser oor u skepping, ek? Help my om dit te verstaan. Amen.