Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 5

2 Januarie

Оглавление

Laat daar lig wees!

Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. Genesis 1:3–4

Jy moet dit oor en oor sê: Die Bybel is nie ’n natuurwetenskaplike teksboek oor die skeppingsgebeure nie. Hier word byvoorbeeld gepraat van die “aarde” wat woes en leeg was met ’n watermassa waaroor God se Gees gesweef het – maar selfs die aarde moes deur God geskep word. Ons kry die gevoel dat hier na woorde getas word om die onverwoordbare uit te druk. Maar dit wat wel saak maak, kom duidelik aan die lig: God is skeppend werksaam!

Vir die Bybelskrywer gaan dit nie oor die wanneer en die hoe van die skepping nie, maar oor die dát en die Wie. Dat hemel en aarde geskep is en nie sommer net van alle ewigheid daar was nie, en dat God die Skepper is. Oor die wanneer en die hoe kan mense na hartelus die een na die ander teorie uitryg. Wat saak maak, is die wesenlik belangrike: God het die hemel en aarde geskape.

En God se bedoeling kom aan die lig: Hy wil uit dit wat woes en leeg en ongeorden is nuwe lewe orden. En die woorde waarmee God se skeppingsplan begin, die knal van die afsetter se pistool, is die volgende: Laat daar lig wees! En sommer op die heel eerste skeppingsdag word orde teweeggebring in die skepping van lig. Lig is lewe. Vanaf dag een van die skepping sou lig en duisternis in God se geskiedenisboek ’n deurslaggewende rol speel.

Here, dankie vir die lig wat dag vir dag vir lewe en groei sorg. Dankie dat U lewenslig ook my lewe bestraal. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх