Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 18

15 Januarie

Оглавление

God se doenwoorde

Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame. Die hele aarde moet die Here vrees, al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê, want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar. Psalm 33:6, 8–9

Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie. Hebreërs 11:3

Wanneer God praat, gebeur daar dinge, groot dinge! As ’n mens deur die Bybel blaai, kom jy telkens die gedagte teë dat God se spreke kreatief is. Die Hebreeuse term vir “woord” kan ewe-eens as “daad” vertaal word. God se woorde is terselftertyd dade. Doenwoorde. God praat nie doelloos nie. Sy woorde is nie oppervlakkig en niksseggend nie. Daarom dat Jesaja sê dat God se woorde nie leeg na Hom sal terugkeer nie. Op God se woord gebeur dinge. In vandag se teksvers word God geloof omdat Hy die wonderlike skepping deur sy woord tot stand gebring het. Dit is nie net die hemelligame en die groot oseane wat deur sy woord tot stand gebring is nie; ook ek en jy is die produk van God se skeppingswoord.

Ja, ons moet saam met die hele aarde in ontsag buig voor die sprekende God. Ons is bevoorreg om vir God op ’n baie konkrete manier te hoor praat. Ons beskik oor die Woord van God waarin Hy ons regstreeks aanspreek. Ons moet sy Woord met ontsag lees, met aandag na sy stem luister.

God se woord kan wonders verrig. Vandag nog. Ook in en deur jou lewe. Luister fyn na wat Hy vandag vir jou wil sê en gehoorsaam sy woord.

O Heer, maak oop my hart se poort; maak my ontvanklik vir u Woord. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх