Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 4

1 Januarie

Оглавление

In die begin …

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Genesis 1:14

So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het, Hy wat alleen God is, Hy wat die aarde gevorm, gemaak het, dit gereed gemaak, geskep het, dit gevorm het, nie om leeg te wees nie, maar om bewoon te word: Ek is die Here; daar is geen ander nie. Jesaja 45:18

Kom ons begin die nuwe jaar by die begin – toe God hemel en aarde geskep het. Ja, oor die skepping – die manier waarop God geskep het en die tyd wat die skepping in beslag sou neem, oor evolusie en aapmense en allerlei teorieë oor ’n oerknal waarmee al wat leef aan die gang gesit sou word – oor al die dinge word heftig geargumenteer. En so al stryende oor die onbegryplik grootse gaan die wonder van God se skeppingswerke by ons verby. Ons soek antwoorde en ons neem onverbiddelike standpunte in, maar ons vergeet om ons Skeppergod te aanbid en ons beperkte insig en kennis te bely.

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. God het op sy eie unieke manier ’n proses aan die gang gesit. Die Bybel noem dit skepping, om iets kreatiefs te doen, om uit niks iets te voorskyn te bring. Kunstenaarswerk. Maar veel meer nog: God se skepping roep chaos tot orde. God maak die onbewoonbare bewoonbaar. God skep ’n tuiste. “Onbewoonbaar” en “donker” is twee woorde wat ’n toestand beskryf. Dit is die chaotiese toestand voordat God se skeppende vinger in beweging gekom het.

Skeppergod, ek eer U as dié God wat uit niks die wonder van lig en lewe skep. Ek aanbid U as die God wat uit chaos orde skep. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх