Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 11

8 Januarie

Оглавление

Net maar ’n fluisterwoord …

Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde. Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan? Job 26:14

In Job 26 kry ons nog ’n loflied op God se magtige dade. In hierdie gedig word God voorgestel as die magtige God wat die geweldigste natuurkragte in bedwang bring. Hy is die God wat die aarde “laat hang waar daar niks is nie” en die hemel oor ’n leë ruimte uitsprei. Hy plaas ’n horison op die see en ’n grens tussen lig en donker. Deur sy krag bring Hy die see tot rus en deur sy insig verpletter Hy vir Rahab (in die Ou Testament die naam van die gevreesde seemonster). In Job se lied hoor ons ’n weerklank van die skeppingsverhaal: God praat en sy woord is skeppend, heersend, versorgend.

Maar dan sluit Job die lied af met hierdie veelseggende getuienis: Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde. Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan? (vers 14). Wat ons sien en hoor, is niks meer as ’n fluistering nie. So groot en magtig is ons God. Ons kan sy almag nie naastenby verstaan nie. En daarom moet ons tog nie op God se gefluister so luidkeels kommentaar lewer nie, so asof ons meen om iets van sy groot dade te verstaan.

Miskien het God op ’n dag tog effens harder gepraat, harder as ’n fluistering. Dit was die dag toe die Woord mens geword en onder ons kom woon het. Of liewer, die dag toe die mensgeworde Woord aan die kruis sy lewe gegee het vir mense wat so swaar kry om op God se woord te antwoord.

Here, dankie vir die fluisterwoord van u skeppingsmag; dankie vir die verlossende Woord aan die kruis. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх