Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 9

6 Januarie

Оглавление

U is die bron van die lewe

Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil. In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid. U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons. Psalm 36:8–10

Die skeppingsverhaal straal warmte, beweging, lig en lewe uit. Wanneer God lig maak, is dit nie maar net die onderskeid tussen dag en nag nie; God se lig is lewenslig. U is die bron van die lewe; deur u lig lewe ons, sê die digter van Psalm 36. En dit is die boodskap van die skeppingsverhaal: lewe in oorvloed. En dit is waarom God dit goed vind – God hou van die lewe. Hy skep sodat daar lewe kan wees en Hy skep lewende wesens om die lewe te geniet.

Lewe gebeur nie net sommer nie. Dit is nie gewoon maar net deel van ’n bepaalde logiese proses nie. Ongelukkig is dit hoe baie mense verkeerdelik oor die lewe dink. Nuwe lewe het vir baie mense ’n slaapkamer-, spreekkamer-, kraamkamer-aangeleentheid geraak – alles so menslik manipuleerbaar. En daarmee word die wonder van ’n Goddelike skepping onder die mat gevee. ’n Broeisel goudgeel eendkuikens is mos veel meer as die resultaat van ’n biologiese proses – dit dra die handtekening van die groot kunstenaar, en dit is iets waaroor ’n mens in verwondering kan buig.

Lewe is nie toevallig nie. Dit is telkens die teken van Goddelike genade. Dit is die uitvloeisel van ’n skeppingsbevel. Die oopgaan van ’n lelie, die geblêr van ’n pasgebore bokkie, die eerste vlug van ’n skoenlapper – in alles hoor jy die stem van die Skepper: “Laat daar lewe wees.” Dink ’n keer nuut oor die lewe. Verheug jou daaroor. Loof en prys God daarvoor.

Here, U is die bron van my lewe; deur u lig lewe ek! Ek loof U, my lewensbron. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх