Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 20

17 Januarie

Оглавление

’n Sugtende skepping

Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. Romeine 8: 20–22

As ons aan die sondeval dink, haak ons gedagtes gewoonlik vas by die uitwerking wat dit op die menslike geslag het. Dit gaan mos oor die mens wat die harmonie met God verbreek het. En gevolglik is dit die mens wat daaronder ly. Voorts is dit die mens wat smag na verlossing. Wanneer ons oor Jesus se soenverdienste jubel, gaan dit weer oor die mens: … sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal verkry (Joh 3:16). Maar dit gaan nie net oor die mens nie! Die sondeval het die harmonie in God se goeie skepping versteur. Hemel en aarde, natuur en kultuur, mens en dier is deur die sondeval geskud.

Paulus het iets van die omvangryke gevolge van die sondeval verstaan. Ja, dit is die mens wat na Jesus se wederkoms verlang wanneer alles nuut sal wees en Christus alles in almal sal wees. Maar, sê Paulus, ook die natuur smag na dié dag wanneer allles nuut sal wees. Want dan sal al die slegte goed waarmee die natuur getref is uit die weg geruim word. Dan sal dit weer baie goed wees soos wat God dit aanvanklik bedoel het om te wees.

Here help my om ’n bydrae te lewer tot die bewaring van die natuur as ’n erkenning van u heerskappy oor u hele skepping. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх