Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 16

13 Januarie

Оглавление

Die versorgende Skepper

U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry: wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee. U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep. Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf. Psalm 104:14–15, 24, 31

Psalm 104 is ’n lied van verwondering. Dit is ’n lied wat bruis van grootheid en almag en heerlikheid. Hoe groot is God! Hoe onbeskryflik wonderlik sy werke! Maar veel meer nog as ’n wonderlike Skeppergod; Hy is ook die versorgende Skeppergod, die Vadergod.

Deel van God se grootse skeppingsplan is die voortdurende herskepping in die natuur: gras wat weer en weer uitspruit; plante wat weer uit die aarde te voorskyn tree; vrugte en wyn en olie wat jaar na jaar daar is om mens en dier te voed. Ja, die aarde is en bly inderdaad vol van alles wat die Here gemaak het. En as ’n mens daaroor nadink, ontdek jy saam met die digter hoedat God alles in wysheid gemaak het. Dit is nie maar net ’n doellose opmaak van ’n wêreld vol goed nie; dit is ’n fyn en unieke legkaart wat meesterlik voltooi word.

Hoe anders kan ’n mens so ’n wonderlike God beskryf as die God wat lewe gee? God is lief vir die lewe. Natuurlik, ook my en jou lewe is ’n gawe van God. Ook ons lewens is deel van sy groot en wonderlike legkaart.

Daarom: Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf!

Here, mag my lewe ook aan U vreugde verskaf! Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх