Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 14

11 Januarie

Оглавление

Die naam van die kunstenaar

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en swraakgieriges, tot swye gebring. Psalm 8:2–3

God se Naam word in hierdie lied besing. Die Naam van die groot kunstenaar wat op al sy skeppingswerke pryk. Die ganse aarde en die hemelruim getuig van die Skepper se wonderdade. God het dit gemaak. Telkens wanneer ek hoor hoe die digters God se skeppingswerke besing, hoor ek hoe God self sê: “Dit is goed.” God se tevredenheid met sy grootse kunswerk word dag vir dag vasgelê in die verfhale wat op die groot doek van die natuur voor ons oë ontvou. Oor God se goeie, volmaakte skepping kan ’n mens nie uitgepraat raak nie. Jy kan hoogstens ’n gedig daaroor skryf, in stamelende woorde aan die Skepper hulde bring.

Waarom sou die die digter daarop klem lê dat kinders en suigelinge God se magtige dade besing? Miskien wil hy daarmee net sê dat dit nie noodwendig slim geleerde mense is wat hulle oor God se magtige dade verwonder nie. Hulle is die mense wat so dikwels hulle koppe breek om die hoe en die wanneer van die skepping te probeer vasstel. Maar kinders, eenvoudige mense, kyk met blink oë in verwondering na die grootheid van God se werke. Dit laat my dink aan Jesus wat later ’n kindjie nader geroep het om te wys aan wie die koninkryk van die hemel behoort. Per slot van rekening bly dit maar net waar dat ’n mens voor die grootheid van God niks meer of anders as ’n kind kan wees nie, kinderlik afhanklik en met kinderlike verwondering.

My God is so groot en so magtig! Daar is niks wat my God nie kan doen nie! Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх