Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 12

9 Januarie

Оглавление

Woordelose wonder en die Woord wat lewe gee

Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. Vir die son is daar in die hemel ’n tent opgeslaan. As hy stralend begin om sy baan te volg, is hy soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. Psalm 19:2–4; 5–6

In Psalm 19 vertel die digter op treffende wyse hoe die uitspansel die werke van God se hande bekendmaak. Dit is ’n deurlopende proses van die een dag na die ander, ’n onophoudelike getuienis van die grootheid van God. Van al die hemelliggame word die son hier as voorbeeld by uitstek uitgesonder. Want van al die skeppingswerke van God is die son die teken van lig en lewe. Weer dink ons aan Psalm 36 se woorde: in u lig sien ons die lig. In die natuur kom God se magtige werke aan die lig. Maar dan is daar nog iets meer …

Die woord van die Here is volmaak: Dit gee lewe (vers 8). Ja, God openbaar Homself in die natuur, maar ons mag nie vergeet dat ook die natuur deur God se skeppingswoord in aansyn geroep is nie. God se woord is volmaak: Dit gee lewe. En dan nie net die Bybel-woord waarin Hy Homself openbaar nie, maar veral in die vleesgeworde Woord, Jesus, wat vir ons die lewe verdien het deur sy soenverdienste aan die kruis.

Kyk na die natuur en loof God vir sy skeppingsmag. Kyk na die kruis en dank God vir die Woord wat lewe gee.

Here, ek verwonder my oor die grootsheid van u skepping; ek jubel oor u volmaakte Woord wat lewe gee. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх