Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 7

4 Januarie

Оглавление

U is met ’n kleed van lig omhul

Ek wil die Here loof! Here my God, U is baie groot, U is beklee met koninklike luister, U is met ’n kleed van lig omhul. Dit is U wat die hemelkoepel soos ’n tentdoek gespan en vir U ’n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind, U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars, … Psalm 104:1–4

Psalm 104 is een van die mooiste lofgedigte oor die skepping. Die Skeppergod word geloof en geprys vir die wonder van ’n ongelooflike skepping. Dit is duidelik dat die digter en sy tydgenote ’n aantal beskouinge oor die skepping en die Skepper het wat vir ons effe vreemd op die oor val. Die feit is egter dat God in elke vers verheerlik word vir die grootsheid van sy skeppingsdade.

Wanneer die digter vir God as Skepper beskryf, sien hy Hom beklee met koninklike luister … met ’n kleed van lig omhul. Lig is hier die teken van glorie, die teken van Goddelike heerlikheid. En dan kom hy met die hemelbeeld vorendag wat destyds aan die orde was: Die hemel is soos ’n tent gespan en bokant die tent en die watermassa is God se tuiste. Al die elemente is in God se diens, sy boodskappers en sy rytuie! Ja, vir seker dink ons op grond van nuwer insigte anders oor die aard van die skepping. Maar ons verwondering oor God se skeppingswerke bly nog dieselfde: dié is onbeskryflik groots. En ons lof en aanbidding en bewondering vir die Skeppergod is nog net so gloeiend soos dié van die Psalmdigter.

Here, ons Skeppergod, ons aanbid u koninklike heerlikheid! U is nie net met ’n kleed van lig omhul nie, maar is Self die Lig wat vir ons lewe gee. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх