Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 13

10 Januarie

Оглавление

Kom ons maak die mens …

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” Genesis 1:26

En toe skep God die mens. Die skepping van die mens was anders as dié van die uitspansel en alles op aarde. Tot met die skepping van die mens het God alles uit niks geskape. Net deur ’n woord te spreek. Maar toe neem God iets van die materie wat reeds geskep is, en iets van Homself om die mens te skep. Die mens is as’t ware ’n mengsel van aarde en hemel, materie en gees. En daarom sal ’n deel van die mens ná sy dood weer terugkeer na die aarde, en ’n deel sal terugkeer na God.

Die mens is ’n uitsonderlike skepping van God. Met die skepping van die mens maak God sy plan met die skepping van die mens bekend: Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers … Die skepping het by ’n hoogtepunt gekom. Die mens is nie gewoon net die

voortsetting van die skepping wat reeds daar is nie, nie net maar nog ’n wonderlike toevoeging tot die skepping nie. Die mens is ’n nuwe skepping, ’n eiesoortige skepping. Want die mens word geskep as beeld, as gelykenis van God self.

In die skepping van die mens verbeeld God Homself. In die mens word God in vlees en bloed deel van sy skepping. Nee, die mens is nie self ’n god nie, maar in die mens word die potensiaal ingebou om Goddelike eienskappe te openbaar.

Here, ek buig in eerbied by hierdie geweldige moment in u skeppingsprogram. Om te dink dat ek deel daarvan is . . . Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх