Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 23

20 Januarie

Оглавление

Skuldig

En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.” Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?” Genesis 3:10–11

Vir die eerste keer in die Bybel hoor ons van vrees. Ewe skielik was God nie meer die welkome gespreksgenoot nie, maar ’n gevreesde teenstander. Daar is ’n breuk tussen God en mens. Sonde het toe nie die verwagte gevolge gehad nie. Die mens het toe nie bo homself uitgestyg nie, maar homself in die diepte van ellende ingedompel deur van God vervreem te raak. En hy word deur ’n skuldgevoel gedryf om vir sy Skeppergod weg te kruip.

“Ek is bang, want ek is kaal.” Vrees, skuld en skande. Wanneer ’n mens ontdek dat sy sondige eksperimente op niks anders as ’n breekspul uitloop nie, is hy meer as enigiets anders van sy skuld en skande bewus. Sonde betaal nie; dit hoop net die skuld op. En dan kruip jy weg vir dié God wat vir jou net die heel beste wil gee.

Dit was die eerste keer. Daarna het dit hoeveel miljoene kere weer en weer gebeur. Die mens wat aan die versoeking toegee suiwer en alleen ter wille van sy eie begeertes en bevrediging. Om dan te ontdek dat hy met die lewende God uit pas geraak het. Skuldig! In die skande! ’n Vervreemde.

Ons dink nie graag aan ons sonde as ’n keuse teen God of as ’n doelbewuste verwerping van sy wil nie. En dan wonder ons waar die vrees en skuldgevoelens vandaan kom en waarom God tog so onbereikbaar vér voel …

Here, ek wil nie meer vir U wegkruip nie; ek bely my skuld. Help my! Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх