Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 29

26 Januarie

Оглавление

Die gevolge van sonde

Toe vra die Here vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” en Kain antwoord: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?” Genesis 4:9

Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 1 Petrus 2:9

Sonde het ’n uitwerking op alle vlakke van ons bestaan. Ons het reeds gesien dat dit die verhouding tussen God en mens in die wiele ry; dat dit menseverhoudings beduiwel en dat dit ook verwoestende implikasies vir die natuur het. En in die oog van die sonde-orkaan staan die mens wat homself verhef tot meer as mens. In plaas daarvan dat hy ’n medewerker van God is, word hy ’n teenstander van God.

In Kain se arrogante antwoord op God se vraag na sy broer hoor ons die toonaard van die gevalle mens. “Ek is aan niemand iets verskuldig nie. Ek is my eie baas.” Blaai maar net deur die koerante en vra jouself af waar die oorsaak van al die smart en ellende lê. Moord, verkragting, roof, motorongelukke, aardverwarming – alles het sy oorsprong by die mens se onversadigbare drang na selfbevrediging, selfverryking, selfhandhawing.

En dan is daar die kerk – God se volk wat uit genade gered is. En die kerk leef in hierdie stukkende wêreld met die roeping om heel te maak, om God se genesende krag in werking te stel. Ons moet net waak dat ons nie deur wêreldgesindheid oorweldig word nie, dat ons nie deel van die probleem word in plaas van om die oplossing aan te bied nie.

Here, help my om deel van u oplossing vir ’n stukkende skepping te wees. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх