Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 28

25 Januarie

Оглавление

Kollektiewe sonde

Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons ’n stad met ’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons ’n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.” Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het, en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie.” Genesis 11:4–7

En nog is dit het einde niet! Laat ons tog maar na nóg ’n oeroue sondeverhaal luister. Hierdie keer kom ’n nuwe aspek van verset teen God in die spel. Persoonlike sonde word nou kollektiewe sonde. Mense span saam om ’n sondige projek uit te voer. Miskien vra jy waarom die bou van ’n toring ’n sondige projek genoem word? En is dit verkeerd dat mense saamstaan en hande vat in ’n poging om iets groots tot stand te bring? Nee, saamstaan en hande vat is nie verkeerd nie – solank dit net nie beteken dat jy in die proses God se hand los nie. En dit is presies wat hier gebeur het. Dit het gegaan oor die begeerte om vir hulle ’n naam te maak en om onafhanklik te wees.

Mense meen vandag nog om ’n magsbasis te bou wat aan hulle onafhanklikheid en monopolie kan waarborg. Daar is talle voorbeelde in die geskiedenis van politieke, ekonomiese, kulturele groeperings wat hulle eie mag en status verafgod het. In die toring van Babel-sage leer ons dat mense se skynbaar prysenswaardige eenheidstrewe so maklik ’n front teen God se heerskappy kan vorm.

Here, laat u Naam in en deur my lewe asook deur alles en almal met wie ek my vereenselwig, verheerlik word. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх