Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 41

6 Februarie

Оглавление

Blydskap en insig

Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. Psalm 19:9

En nou is ons weer terug by die Here se Woord – dié Here wat op mense se versugtinge antwoord. Die digter van Psalm 19 vertel vir ons wat die Here se Woord vir ons wil beteken. Dit is veel meer as ’n ligte vertroosting of bemoediging. Dit is ’n Woord met daadkrag wat dinge in ons lewens laat gebeur. Let op dat die digter aan die woord van die Here verskillende benaminge gee (wet, bevele, gebod, opdragte, ens.), maar dit gaan telkens maar net om een saak, naamlik die woord wat lewe gee uit die mond van die almagtige God.

Ons hoor keer op keer dat die Here se Woord vir ons die regte koers aandui. Dit is rigtinggewend. Dit plaas ons op koers na die regte doelwitte. Is dit nie verbysterend hoe maklik ’n mens koers verloor nie? Daar is so baie dinge wat ons aandag aftrek en ons van ons doelwitte laat vergeet. Ons agenda raak mettertyd oorlaai met onbelangrike dinge wat algaande al hoe belangriker raak. Die Here se Woord wil ons op koers hou sodat ons gelukkige mense kan wees. Om jou doel te bereik, maak jou bly. ’n Vervulde lewe is ’n vreugdelewe.

’n Verdere pluspunt van God se Woord is dat dit vir ’n mens insig gee. Dit help jou om sake helder deur te sien en te weet presies watter besluite geneem moet word. En dit gebeur so omdat jy die Woord van die Here as betroubare maatstaf kan gebruik.

Here, hou my asseblief aan die hand van u Woord op die regte koers. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх