Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 37

2 Februarie

Оглавление

Die vreugde van Gods Woord

Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Psalm 1:1–2

Ons is ná verlede maand se Skrifgedeeltes al deeglik daarvan bewus dat ons in ’n stukkende, sondige wêreld leef. God het die wêreld deur sy skeppingswoord in aansyn geroep. En God se skepping was baie goed. Maar nou weet ons dat dit nie meer baie goed is nie. Daar is so baie slegte dinge wat dag vir dag rondom ons gebeur. En hoe dikwels moet ons nie erken dat daar ook in ons eie harte slegte dinge is nie. Daarom luister ons weer na God wat praat. Ons soek ons heil in sy woord.

Om God se Woord ernstig te neem en dit as rigsnoer vir jou lewe te neem, moet jy egter ’n keuse uitoefen. Jy moet staanplek in die lewe kies. Met God se Woord in jou hand en in jou hart kan jy nie aan die kant van die goddelose mense laer trek nie. Jy moet teen ’n goddelose leefstyl kies; jy moet jou doelbewus van goddelose mense afsonder. Om by goddelose mense raad te vra, kan jou duur te staan kom. Hulle moraal is altyd onder verdenking. Om by sondaars in te haak, kan jou op verkeerde plekke laat beland, en ligsinniges se praatjies is selde opheffend of ’n verheerliking van God.

Vind jou vreugde in die Woord van die Here. Oordink dit dag en nag. Laat sy Woord die lig wees wat vir jou die lewenskoers aandui.

Liewe Here, hou my tog weg van almal wat u Woord verontagsaam en laat ek dag vir dag my vreugde in u Woord vind. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх