Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 38

3 Februarie

Оглавление

Soos ’n boom by ’n waterstroom

Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. Psalm 1:3

In Psalm 1 vind ons ’n wonderlike belofte vir mense wat hulle lewens in pas met God se Woord inruim. Hulle is soos bome wat by ’n waterstroom geplant is, vrugte dra en nooit verdroog nie. Verder is sulke mense voorspoedig in alles wat hulle doen.

Vir die eerste hoorders van hierdie teks was ’n waterstroom niks minder as ’n bron van hemelse genade nie. Hulle het in woestynstreke gewoon en was vir oorlewing van water afhanklik. Die beeld wat die digter hier gebruik, het hulle hartsnare geroer: ’n boom by ’n standhoudende stroom water! Só is iemand wat sy groeikrag in God se Woord vind. Hy is gewortel in ’n lewensbron wat onuitputlik is. Maar meer nog: Die boom by die water se vrugte word gewaarborg. Mense wat in God se Woord geanker is, sal vrugte dra wat vir ander tot seën sal wees. Hierdie boom sal lewenskragtig bly en nooit verdor nie. Maar nóg meer: Iemand wat sy vreugde in God se Woord vind, sal voorspoedig wees in alles wat hy aanpak! Nee, dit is nie sommer net ’n skimbelofte nie; dit is God se woordbelofte. Indien jou hele lewe Skrifgetrou beplan en uitgevoer word, sal God self sorg vir voorspoed.

Ons moet onthou om die volledige beeld in ons lewens toe te pas: Om uit die bron van die Woord te put, moet dit bewys word deur vrugte te dra. Voorspoed word gewaarborg vir mense wat Woord-getrou lewe.

Here, voed my met u Woord sodat ek vrug kan dra tot u eer. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх