Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 24

21 Januarie

Оглавление

Selfverontskuldiging

Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.” Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.” Genesis 3:12–13

Die mens en sy vrou kom toe so effens tot verhaal. Dalk is die saak met God tog nie heeltemal verlore nie. Dalk kan hulle deur hulle kaarte reg te speel nog die situasie red. En toe volg hulle die roete van selfverontskuldiging. Ja, ons hét geëet, máár … God moet weet daar was provokasie. En om die waarheid te sê, lê die skuld nogal by die vrou wat U self vir my gegee het. Sy het my verlei.

Die mens se verontskuldigingstruuk het twee gevolge. Eerstens was dit ’n lafhartige manier om sy eie voordeel te soek. Dit het hom net verder in die skuld gedompel. Hy wou nie verantwoordelikheid vir sy sonde aanvaar nie. Hy is nie eerlik met God nie. En tweedens het dit tot wantroue tussen mens en mens aanleiding gegee. Nie alleen is die goeie verhouding tussen mens en God geskend nie, maar die volmaakte verhouding tussen mens en mens het begin krake vertoon.

Eva wys toe ook vinger, hierdie keer na die slang. En hoe geredelik koor ons haar nie agterna nie: “Was dit nie vir die ou Satan nie, sou ons nie aan die versoeking toegegee het nie …” Ons leer ons kinders verkeerd deur te verwys na “die ou duiwel wat daar agter jou oor sit”. Dit is jyself wat die besluit neem. Moenie vinger wys nie. Steek jou hand eerder in eie boesem. “Ja, Here, ek is skuldig!”

Ja, Here, ek is skuldig! Vergewe my sonde. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх