Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 40

5 Februarie

Оглавление

Gee my krag!

Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang. Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het. Psalm 13:4–6

Nog ’n benoude hulpgeroep: “Here, gee my krag!” En hoe goed ken ons nie dié versugting nie. Hoe dikwels bevind ons onsself nie aan die einde van ons kragte nie. Dit kan wees as gevolg van benouende omstandighede, siekte, of krisisse – al die goed wat ons kragte tap. Ons voel gedreineer en soms selfs deur die dood bedreig. Só het die digter gevoel. Sy lewe was letterlik op die spel. En sy dood sou ’n oorwinning vir sy vyande (en onregstreeks ook God se vyande) beteken. Gee my tog nuwe lewenskrag! Tot sover sy versugting. Besluit eers of jy jouself by geleentheid met dié man se stemming kan identifiseer.

En dan, sommer so in dieselfde asem, kom hy met ’n vreugdelied vorendag. Ja, ek voel kragteloos, maar ek ken die Here, Hy sal my ondersteun. Ek hou vas aan sy troue liefde. My God is getrou aan sy beloftes. Hy laat nie sy kinders in die steek nie. Daarom juig my hart. En daarom sing ek sommer so deur my trane heen. Die Here het aan my goed gedoen. Hét gedoen? Ja, so seker is ek van my God se troue liefde.

Hou ons nie te dikwels by die kragelose hulpgeroep op nie? Moet ons nie meer dikwels van klaagsang tot loflied oorgaan nie? Ons ken mos ons Here. Hy is en bly getrou aan sy beloftes. Sing tot sy eer!

Here, dankie dat U luister as ek kla. Nou wil ek eers weer sing tot u eer. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх