Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 27
24 Januarie
ОглавлениеAlgehele verrotting
Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier …, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.” Genesis 6:5–7
Sonde het spoedig epidemiese afmetings aangeneem. Die storie van die mensheid het sy glans verloor. Die mens het die heerlikheid waarmee God hom geseën het, verloor. Die mens se verdorwenheid het geen perke geken nie. En God was bedroef dat Hy die mens op die aarde gemaak het. ’n Hartseer God. ’n Diep teleurgestelde God. Ons vind dit moeilik om hierdie Goddelike emosie behoorlik te verstaan. Het die alwyse God dan nie geweet die mens sou Hom teleurstel nie? Was die verderf vir God regtig so ’n groot verrassing? Ek reken hierdie porsie inligting wil vir ons net sê dat God ’n hoë verwagting van die mens gekoester het. En ook dat God nooit bereid was om die mens se vryheid in te perk nie. God was hartseer omdat Hy die mens liefgehad het.
Maar dan die skokkende aankondiging: God besluit om mens én dier op aarde uit te roei. God besluit op ’n skoonmaakproses. Hartseer oor die mens wat Hom teleurstel. Woede oor die vernietigende mag van sonde.
Maar weer ’n keer kom die woord “genade” in die spel … Omdat daar een man was wat aan God getrou gebly het, vind daar toe nie ’n volledige uitwissing van alle lewe plaas nie. God bly maar deurentyd die God van nog ’n kans! Daaroor gesels ons later.
Here, ek wil nie deur my sonde tot u hartseer bydra nie. Help my om u Woord te gehoorsaam. Amen.