Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 25
22 Januarie
ОглавлениеStraf
Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.” Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank. Stof is jy, en jy sal weer stof word.” Genesis 3:16, 17, 19
Straf. Watter onverkwiklike, negatiewe woord. Ons haat dit. Ons wil eerder beloon en vergoed word. Met geskenke bederf word. Daarom is ons dol oor genade. En daarom vermy ons die talle verwysings in die Bybel, en veral die Ou Testament, ná straf. Maar ons sal maar met die woord vrede moet maak. Want die onbetwisbare feit van die saak is dat God sonde straf.
Die heel eerste komponent van die straf is dat die aarde vervloek word. Die tuin word ’n wildernis. Die harmonie tussen mens en natuur verander in chaos. Slegs deur harde werk sal die mens ’n bestaan kan voer. En dan die finale strafronde: die dood. Dit is die harde feite. En ons weet dit, want ons sien en beleef dit dag vir dag. ’n Natuur wat al hoe meer in chaos verval oor die mens se voortgesette sondige misbruik van God se goeie gawes. En die dood wat op sovele maniere die mens se bestaan ontsier.
Genadiglik was “straf” nie God se laaste woord vir die mens nie. Maar voor ons oor dié genade kan bly word, moet ons net eenvoudig eers met straf rekening hou. Anders sal ons nooit verstaan dat God sonde haat nie.
Here, laat ek tog nooit vergeet dat U sonde haat nie. Amen.