Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 19

16 Januarie

Оглавление

Hou God se Naam hoog

So sê God, die Here, Hy wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het, Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer, Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg: Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee

Ek nie aan gesnede beelde nie. Jesaja 42:5, 8

As ’n mens na die skeppingswonders kyk, daardeur aangegryp word, en jy besef dit is die werk van ons enige en almagtige God, kan jy tog nie anders as om in bewondering en ontsag voor Hom te buig nie. Aan Hom kom die lof en eer en aanbidding toe. En tog gebeur die byna ondenkbare: Mense wat bely dat die Here hulle God is, draai van Hom weg en aanbid dooie afgode. Dit is in dié klimaat wat ons teksvers gemunt is. Israel het hulle tot nuttelose, dooie afgodsbeelde gewend en sodoende die Here se Naam ontheilig. Waarom? Skynbaar omdat hulle na vaste sekuriteit gesoek het, na aardse goed waaraan hulle kon vashou en dit vertroetel.

Ongelukkig is dit nie ’n sonde waaraan net die Israeliete hulle skuldig gemaak het nie. Is dit nie so dat ook ons so baiekeer by die skeppingswonders verby kyk en ons aandag vestig op so baie nuttelose goed nie? Ons gee nie vir God die eer wat Hom toekom nie. Ons vergeet van die grootsheid van sy skepping. Ons raak nie meer oor God se wondermag opgewonde nie. Ander goed maak ons opgewonde. Mense en materiële goed word deur ons verafgod. En God se plek word ál kleiner in ons elke dag se bestaanswyse.

Here, maak my los van alles wat kan maak dat ek U Naam oneer aandoen. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх