Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 6

3 Januarie

Оглавление

Lig én duisternis

Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is; die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie. Spreuke 4:18–19

Reg aan die begin hoor ons al van lig én duisternis. Sonder lig is daar nie lewe nie. Alles wat ná die skepping van lig aan die orde kom, is vir lewe van lig afhanklik. Lig is lewe. Dit is dus heeltemal verstaanbaar dat lig en duisternis dwarsdeur die Bybel sleutelbegrippe word. Om naby God te lewe, beteken om in die lig te lewe. Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig …(Spr 4). Goddeloosheid word met duisternis verbind.

Die skepping van hemel en aarde was inderdaad ’n ligpunt op die Goddelike agenda. Maar die duisternis het toe nie uitgebly nie. Die donkerte wat deur sonde veroorsaak is, het ’n verwoestende, dodelike mag geword wat God se goeie bedoelinge in die wiele gery het, ’n hardnekkige poging om die lig uit te doof. En hierdie keer was die duisternis ’n keuse wat deur die mens self uitgeoefen word. Sodra ’n mens jou rug op God draai, het jy van die lig van die lewe weggedraai. Dan kies jy die donkerte van die dood.

Nogtans kan die lig van God se genade nie gedoof word nie. Op ’n dag het die ware lig na die wêreld gekom om finaal die donkerte van die dood te oorwin. Hy het gesê: “Ek is die Lig wat lewe gee.” Ná die ligbevel wat die skepping aan die gang gesit het, is die koms van Jesus, die Woord wat mens geword het, die Woord waarmee God sy Herskeppingsprogram op dreef laat kom.

Dankie Jesus dat U die lig is wat ewige lewe gee. Dankie dat God se skepping in u herskeppende liefde vervolmaak is. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх