Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 47

12 Februarie

Оглавление

Ontvanklik vir God se woord

Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!” En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!” 1 Samuel 3:10

In Samuel se verhaal is dit treffend hoedat die Here die inisiatief in ’n mens se lewe neem. Dit het al by Samuel se ma begin, die kinderlose vrou wat op die Here vertrou het en toe haar kind aan die Here gewy het. Ons lees dat die jong Samuel “die Here gedien het” onder Eli se toesig. Maar hy het die Here nog nie persoonlik geken nie, want die woord van die Here was nog nie aan hom geopenbaar nie (vers 7). ’n Kind wat die Here “dien” maar Hom nog nie “ken” nie – dit klink vir my nogal baie na die storie van baie eietydse verbondskinders!

Toe roep die Here na Samuel. Maar Samuel ken nog nie die Here nie, daarom weet hy nie wie na hom roep nie. Gelukkig weet Eli en hy gee vir die jong seun duidelike instruksies hoe om op die Here se roep te antwoord. Toe gebeur dit: een van die opwindendste ontmoetings tussen God en mens! Toe die Here weer roep, is Samuel ontvanklik vir sy woord: Praat, Here, u dienaar luister!

Samuel het die Here leer ken deur vir sy woord ontvanklik te wees. Ja, natuurlik gebeur dit nie met ons almal so skouspelagtig nie. Nogtans gebeur dit telkens wanneer ons met afwagting en ontvanklikheid na God se woord luister: ons hoor God se stem – of dit nou met stiltetyd of tydens kerkbesoek is.

Wanneer laas het jy vir God hoor praat? Wanneer laas het jy met ’n Samuel-gesindheid na God geluister?

Praat, Here, u dienaar luister! Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх