Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 49

14 Februarie

Оглавление

Wie, sê julle, is Ek?

“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Matteus 16:15–16

In ons woord en antwoord-reeks wil ek graag vandag vir Jesus aan die woord stel. In sy gesprekke met sy dissipels het Jesus ’n aantal indringende vrae aan hulle gestel. Die antwoorde op hierdie vrae het koersbepalende gevolge gehad. Ek wil graag twee van dié vrae (wat al twee deur Petrus beantwoord is) aan die orde stel, aangesien dit vrae is wat vandag nog van toepassing is en waarop ook ons ’n antwoord moet gee.

Jesus se optrede het opslae gemaak. Die nuus oor sy doen en late het versprei en mense het wyd en syd begin bespiegel oor wie Jesus nou werklik is. Sommige mense het gemeen dat Hy Elia is wat uit die dood opgestaan het. In die Ou Testament is mos voorspel dat Elia as voorloper van die Messias sou verskyn. Ander het weer gemeen dis Johannes die Doper wat weer tevoorskyn getree het. Die meeste mense het gemeen dat Hy ’n profeet was. Toe vra Jesus op ’n dag vir sy dissipels: “Maar wat sê julle, wie is Ek?”

Petrus het toe dadelik met ’n antwoord gekom. Dit was meer as ’n korrekte antwoord; dit was ’n geloofsbelydenis wat as grondslag vir die Christelike kerk sou dien. Ja, Jesus was inderdaad die Seun van God, die Messias (Christus).

Hierdie vraag na Jesus se ware identiteit kom steeds aan die orde. Mense het steeds verskeie teorieë oor wie Jesus nou eintlik was. Wat is jou antwoord? Is Hy vir jou die Christus, die enigste Verlosser van sonde en dood?

Jesus, U is die Messias, my enigste Verlosser en Saligmaker! Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх