Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 55

20 Februarie

Оглавление

Kies die lewe

“Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel?” Esegiël 33:11

Kies die lewe of kies die dood. Watter dom keuse om aan enigiemand te stel. Ons wil mos almal graag lewe. Vanselfsprekend kies ons die lewe! Maar as jy na mense se leefstyl kyk, lyk dit tog nie na so ’n natuurlike keuse nie. Mense dobbel net te dikwels met die lewe. Hulle mors met die gawe van die lewe. En in hierdie malle dobbelspel verkeer hulle nogal onder die indruk dat die dobbelsteen telkens vir hulle reg val – hulle behaal voordeel uit die dobbelspel. Maar dit is ’n illusie. Skoppensboer bly baas. As jy met die lewe dobbel, kies jy die dood.

Ja, ek weet dit klink baie swartgallig. Sonde, die dobbelspel met die lewe, is darem erg opwindend. ’n Mens moet darem nou ook nie al die pret uit die lewe verwyder nie. Wel, as jy vir God uit jou lewe haal, het jy al die pret uitgehaal. Want sonder God is jy ’n kandidaat vir die dood. God wil nie hê die sondaar moet sterf nie. Hy wil hê mense moet hulle bekeer van ’n verkeerde manier van lewe, van ’n dobbelspel met die lewe, sodat hulle werklik kan lewe.

Is hierdie teks net vir ongelowiges bedoel? Ongelukkig nie. Selfs mense wat bely dat hulle in die Here glo, gee hulle oor aan ’n leefstyl wat niks minder as ’n dobbelspel met die lewe is nie. Moenie jou dood soek nie! Die keuse bly joune.

Here, gee dat my leefstyl sal bewys dat ek die lewe, vir U, gekies het. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх